African Questions

Publications of Dr. Klaus Frhr. von der Ropp

Political Observer and Consultant on Southern African Issues

Aktueel: Onderhandelinge

Tyd sal moet sê hoekom NP soveel weggegee het

Westerse waarnemers en bemiddelaars het lank voor die onderhandelingsproses besef dat onaantasbare waarborge vir die voortbestaan van die Afrikaner die sleutel is tot politieke en ekonomiese stabiliteit in die Nuwe Suid-Afrika. Hoe is dit moontlik dat die Afrikaner-onderhandelaars nie hierdie en ander kernvoorwaardes suksesvol kon beding nie, vra baron KLAUS VON DER ROPP, Duitse kenner van Suid-Afrikaanse politiek in die artikel hieronder.

NIE sonder verbasing nie, het ons middel November 1993 in Duitsland kennis geneem van die besonderhede van die tussentydse grondwet waarop die onderhandelende partye van Suid-Afrika ooreengekom het
Saam met Joe Slovo in sy artikel "The negotiations victory" in The African Communist, einde 1993, moes ons tot die gevolgtrekking kom dat die ANC SAKP-alliansie min of meer gekry het wat hy wou hê, en dat pres. F.W. de Klerk en sy span onderhandelaars Kempton Park met leë hande verlaat het.
In amptelike verklarings en uit die baie gesprekke wat ons in die vroeë negentigerjare in Duitsland met hoë ampsdraers van die NP en die Suid-Afrikaanse regering gevoer het, het ons afgelei dat, anders as in voormalige kolonies soos Zimbabwe, Namibië, Angola en Mosambiek, meerderheidsregering nie die antwoord vir Suid-Afrika is nie. Hierdie siening is gedeel deur die inisieerders van die Brits-Amerikaans-Sowjet-bemiddelingsdiplomasie, wat De Klerk se breuk met die Republiek se geskiedenis van rassisme voorafgegaan het.
Sowel ambassadeur Robin Renwick van Brittanje as Chester Crocker, Amerika se assistent-sekretaris van buitelandse sake belas met Afrika, het besef dat sekere demokratiese aspekte opgeoffer sal moet word in die belang van stabiliteit in pot-apartheid Suid-Afrika.
Saam met Otto Lambsdorff, die (Duitse) voorsitter van Liberal International, sou Renwick en Crocker ook besef het dat rotsvaste waarborge vir die voortbestaan van Afrikaners die sleutel is tot politieke en dus ekonomiese stabiliteit in past-apar theid Suid-Afrika.
Minstens tot en met die ondertekening van die "Protocol of Understanding" deur die ANC en die NP in September 1992 was 'n stelsel van permanente magsdeling op nasionale en streeksvlak, sowel as sterk federale strukture, sleutelelemente van die NP se program. Toekamstige historici sal moet vasstel waarom min. Roelf Meyer en sy kollegas van die NP en die regering nie daarin geslaag het om hierdie standpunte te handhaaf nie.
Wat maak dit onmoontlik om te hoop dat die tussentydse grondwet sal werk? Wat maak die dikwels uitgesproke vergelykings met die ontwikkeling van 'n demokratiese kultuur in die destydse Wes-Duitsland totaal onoortuigend en selfs belaglik? Soos Graaf Lambsdorff vroeg in April 1993 in 'n toespraak by die Instituut vir Rasse-verhoudinge in Johannesburg uitgewys het, was die omstandighede van die twee lande heeltemal verskillend: Wes-Duitsland het eers op die dag van hereniging met Oos-Duitsland in Oktober 1990 'n soewereine staat geword. Voorheen, van 1945 tot 1990, was dit militêr beset deur Amerika, Brittanje en Frankryk, en dit was onder hierdie sambreel dat 'n demokratiese kultuur kon ontwikkel. Met ander woorde, daar was 'n oorgangstydperk van 45 jaar! En 'n mens moenie vergeet nie dat Duitsland toevallig ook 'n land is met 'n besonder homogene bevolking.
Deur onderhandelinge met die AVF in Augustus 1993 te begin, het die ANC getoon dat hy besef dat die De Klerk-regering net namens sekere blanke Afrikaners kan praat. Nelson Mandela en sy kollegas het geweet dat soveel moontlik lede van die AVF (en indien moontlik ook van die dikwels oorskatte IVP) in die grondwetlike bedeling ingesluit moet word om minstens twee redes: Vir eers omdat hulle met hul massiewe steun in die burgermag, in die komrnando's, in die polisiereserwes en die land se burokrasie, en hul latente steun in die staande magte die geboorte van die nuwe Suid-Afrika kan saboteer. En, ten tweede, omdat verwag kan word dat die ANC (en sy junior vennote) vir baie lang jare Suid-Afrika sal moet beheer met drakoniese noodmaatreëls. En vir die afkondiging en handhawing van 'n noodtoestand is die veiligheidsmagte en burokrasieë se gewilligheid om dit in werking te stel noodsaaklik.

Insig, April 1994
29