Tussen magspolitiek en minderheidsregte: 'n Duitse perspektief
29 April 2025
Deur dr. Klaus Baron von der Ropp
‘n Ou foto van dr. Klaus von der Ropp (Foto: Namibiana Buchdepot)
Persoonlike herinneringe en 'n Duitse perspektief
Ekself het nooit enige amptelike posisie in Suider-Afrika beklee nie. Oor 'n tydperk van ses dekades was ek net 'n waarnemer – ofskoon baie oplettend en wetenskaplik toegewyd. Dit het my vry gemaak – met 'n totale omvattende politieke vryheid wat ek nooit sou hê indien ek op een of ander wyse 'n amptelike status of pos gehad het nie.
Ek kon byvoorbeeld as waarnemer van die buiteland (Duitsland) af betrokke wees by verkennende gesprekke wat in Dakar, Senegal, in Julie 1987 plaasgevind het en baie interessante waarnemings oor verskillende persone maak. Verder kon ek dikwels baie krities diskussie voer met bekwame Britse en Amerikaanse diplomate, onder wie sir Robin Renwick en die VSA-ambassadeur, Nathan Princeton Lyman, en later ook met Sowjet-/ Russiese amptenare.
Dan het dit nie net oor die ontwikkelings in Suid-Afrika en sy buurlande gegaan nie, maar ook oor my eie land, Wes-Duitsland, se amateuragtige beleid in die suidelikste deel van Afrika. Ek is dankbaar dat 'n redelike groot aantal van hierdie buitelandse verteenwoordigers verrassend eerlik met my was – waarskynlik juis vanweë my onverbondenheid en vryheid. Die meeste van hulle sou geweet het dat my regering ná 17 Oktober 1978 deur die Britse en Amerikaanse regerings uitgesluit is van die onderhandelinge oor die toekoms van Namibië en daarna Suid-Afrika.
Brittanje en Suid-Afrika
Ek wil nie hier praat oor die rol van die uitstaande Britse ambassadeur, sir Robin Renwick, 'n hoofargitek van die Suid-Afrikaanse transformasieproses nie. Renwick is volkome ondersteun deur sy Amerikaanse eweknie, Bill Swing. Maar Swing moes tevrede wees met die rol van 'n junior vennoot.
Heel gepas het die Johannesburg Sunday Times van 21 April 1991 'n artikel gepubliseer met die opskrif, “Sir Robin Renwick – his Excellent Excellency”. En op 1 Junie 1991, aan die vooraand van sy vertrek na Washington, het die Financial Times vir Renwick as die “host with the most in South Africa” bestempel.
Renwick was inderdaad 'n baie suksesvolle “intervensionistiese” ambassadeur. Maar, hy het nie die volkome geregverdigde kommer van die Afrikanervolk verstaan dat hulle in 'n “nuwe” Suid-Afrika deur 'n oormag, wat kultureel heeltemal vreemd aan hulle was, oorweldig sou word nie. Miskien sou Renwick nie Van Zyl Slabbert se waarskuwing aan die ANC/SAKP-alliansie tydens die byeenkoms in Dakar verstaan het nie: “Revolusionêres moet wit Suid-Afrikaners, veral Afrikaners, oortuig dat daar lewe ná apartheid is.”
Die man met begrip vir die Afrikaners
Slabbert se opmerking sou egter volkome verstaan geword het deur Renwick se opvolger as leiersfiguur onder die Westerse diplomate – by verre die mees invloedryke buitelandse diplomaat in Pretoria in die vroeë 1990’s, naamlik die Amerikaanse ambassadeur Princeton Nathan Lyman.
Sy vorige aanstellings as Amerikaanse ambassadeur in Colombia en Nigerië – twee gedeeltelik geïmplodeerde state – het hom goed voorberei vir sy nuwe pos aan die Kaap. Elke keer as ek Lyman ontmoet het, was ek geweldig beïndruk deur sy diepgaande kennis van sy nuwe gasheerland, Suid-Afrika, en dié se inwoners (insluitende die Afrikaners). Anders as Renwick was hy ook 'n beskeie man. Verder was ek gefassineer deur sy kennis van Wes-Duitsland se amateuragtige, ofskoon polities korrekte rol in Suid-Afrika.
Op sulke geleenthede was ek dankbaar om hom te kon vertel dat daar tog wel 'n paar konstruktiewe stemme in Bonn was. 'n Voorbeeld hiervan was die destydse Duitse kanselier, Helmut Schmidt, se opmerking aan die Amerikaanse vise-president Walter (“Fritz”) Mondale tydens 'n vergadering op 21 Mei 1977 in sy kantoor in Bonn. Mondale, wat die vorige dag in Wene met die Suid-Afrikaanse eerste minister, John Vorster, swaarde gekruis het, het gesê dat die Weste alles in sy vermoë moes doen om Pretoria te dwing om apartheid te beëindig. Schmidt se reaksie was die lakoniese vraag: “En vervang dit met wat?”
Ek kon ook vir Lyman die teks verskaf van 'n onderhoud met Egon Bahr, 'n verdere toonaangewende SPD-politikus in Wes-Duitsland. In 1977 het Bahr verklaar dat, aangesien 'n “een man, een stem”-stelsel nie haalbaar was in Suid-Afrika nie, 'n “tot dusver onbekende oplossing van vreedsame naasbestaan met spesiale beskerming vir minderhede ontwikkel moes word”. Daarbenewens het Otto Graf Lambsdorff, die magtige voorsitter van die Duitse liberale party (FDP), gepleit vir “kopergewaarborgde bestaansversekering” vir wit en bruin Afrikaners in 'n dokument wat in 1986 gepubliseer is.
Die VSA-ambassadeur en die Afrikaanse generaal
Lyman was 'n unieke en uitnemende diplomaat, veral met sy begrip van die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse dilemma. Hy was lojaal aan sy regering se begeerte om apartheid te beëindig, maar anders as waarskynlik al sy kollegas in Pretoria, het hy nooit op wit Suid-Afrika, veral die Afrikaners, se onvoorwaardelike oorgawe aangedring nie. In sy talle en intensiewe gesprekke met generaal Constand Viljoen het hy konsekwent duidelik gemaak dat hy Viljoen as 'n man van eer en as 'n patriot respekteer. Dit was in skerp kontras met die destydse “wêreldmening” wat Viljoen as 'n rassis en 'n onrusmaker beskou het.
Generaal Viljoen het vir baie goeie redes aangedring op “grondwetlik gewaarborgde” bestaansregte vir sy volk en selfs 'n onafhanklike Afrikaner-staat. Lyman het egter geargumenteer dat so 'n oplossing nie meer haalbaar was nie, aangesien Suid-Afrika intussen 'n etniese smeltkroes geword het. Toe Viljoen besef dat Lyman nie kon instem tot die skepping van 'n Afrikaner-volkstaat nie, het hy dit duidelik gemaak dat groot dele van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag lojaal aan hom was en bereid was om vir Afrikaner-oorlewing te veg.
'n Deurslaggewende ontmoeting
Min mense besef dat 'n ontmoeting tussen Viljoen en die Amerikaanse adjunksekretaris van verdediging, Chas Freeman, reeds op 11 Februarie 1994 in die VSA-ambassade in Pretoria plaasgevind het. Die Amerikaners het Viljoen gewaarsku teen 'n UDI-styl-oplossing (vergelyk Rhodesië) deur te wys op hul massiewe en geheime lugmagbasis, Thebephatshwa, in Botswana. Ná hierdie ontmoeting het Viljoen ingestem om aan die verkiesing deel te neem, op voorwaarde dat Afrikaners se selfbeskikkingsreg gewaarborg word.
Dít sou lei tot die amptelike “Ooreenkoms oor Afrikaner-Selfbeskikking” tussen die Vryheidsfront, die ANC en die Suid-Afrikaanse regering, onderteken deur generaal Constand Viljoen, Thabo Mbeki en Roelf Meyer in die Uniegebou in Pretoria op 23 April 1994.
Ooggetuie by die waarborg van Afrikaner-selfbeskikking
Benewens Generaal Viljoen, Thabo Mbeki en Roelf Meyer, was daar verdere persone aanwesig by die seremonie op 23 April 1994 – 31 jaar gelede. Dit sluit in, onder andere, die Amerikaanse ambassadeur, Nathan Princeton Lyman, die Britse ambassadeur sir Anthony Reeve, Walter Sisulu, Aziz Pahad, Abraham Viljoen, junior diplomate van verskeie ambassades, 'n buitelandse minister, Martin Cullen (Ierland), asook myself as EU-waarnemer.
As Duitser het veral twee dinge my opgeval: die Duitse ambassadeur, Hans-Christian Uberschaer, het die amptelike uitnodiging om die vergadering by te woon van die hand gewys. Hy was redelik konserwatief, maar wou nie in die “geselskap van rassiste” gesien word nie. Aan die ander kant het ek in die geselskap van Viljoen die Russiese ambassadeur, Jevgeni P Gusarow, ontmoet. Hy het die generaal opreg gelukgewens met die ondertekening van die “akkoord”.
Soos dit 'n bekwame diplomaat betaam, het Lyman sy werk buite die kalklig verrig. Dit is nie oordrewe nie om te beweer dat danksy die geweldige sensitiewe diplomatieke vernuf van Nathan Princeton Lyman, die VSA-ambassadeur in 1994, verhinder is dat Suid-Afrika in totale chaos en vernietiging beland het.
Duitsers onder die Tsaar en in die USSR
Tydens die voorafgaande onderhandelinge oor die akkoord het beide Lyman en Viljoen intensiewe gesprekke met my persoonlik gevoer – in my hoedanigheid as onafhanklike (vrye) adviseur – maar ook met my persoonlike vriende, Van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach, veral oor die sleutelkwessie van die beskerming van etniese minderhede. Hulle het albei geweet dat ons almal by die Dakar-konferensie was en die ANC in opvolgvergaderings ontmoet het.
In afsonderlike sessies is die situasie van die Duitssprekende gemeenskappe in Suid-Tirol en Oos-België bespreek. Maar hierdie twee voorbeelde het my nie oortuig nie. Anders as die Afrikaners in Suid-Afrika, bestaan hierdie gemeenskappe binne gevestigde grondwetlike state (“regstate”), in gevestigde demokrasieë.
Ek het met Viljoen, en later met Lyman, eerder die grondwetlike status van die sogenaamde “Rusland-Duitsers”, meer presies die “Sowjet-Duitsers”, bespreek – 'n Duitssprekende gemeenskap van oorspronklik 2,5 miljoen mense wat vir meer as twee eeue in Tsaristiese Rusland en later die Sowjetunie gewoon het. Lyman het baie goed geweet dat hulle tussen die twee Wêreldoorloë in hul eie “Wolga-Republiek” gewoon het. Maar slegs sowat 20-25% het werklik in hierdie republiek gewoon; die res het in “taaleilande” verspreid regoor hierdie groot land (Rusland en later die USSR) gewoon. Tog het die “Wolga-Republiek” skole, opvoedkundige instellings op alle vlakke, uitgewers van publikasies, ensovoorts verskaf, en sodoende 'n manier aan die Sowjet-Duitsers gebied om dikwels hul Duitse identiteit nie noodwendig in 'n vyandige nie, maar steeds vreemde omgewing te handhaaf.
Hierdie deels belowende ontwikkeling van verreikende (interne) outonomie het egter skielik tot 'n einde gekom in die finale toneel van grootheidswaan in Junie 1941 toe Nazi-Duitsland die Sowjetunie aangeval het.
Implementering van die akkoord vir selfbeskikking?
Nou, meer as dertig jaar ná die ondertekening van die “reg-op-selfbeskikking”-akkoord, en om redes wat skaars verstaanbaar is, is dit, soos vervat in artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, ongelukkig nog steeds nie geïmplementeer nie. Blykbaar word die Konstitusionele Hof nou gevra om met die implementering daarvan te begin deur die instelling van 'n Volkstaatraad te gelas. Laasgenoemde sal natuurlik net sin maak as die Afrikaners (van byvoorbeeld Solidariteit en AfriForum en andere) daarin slaag om onderlinge geskille/ verskille (vir buitestaanders dikwels onverstaanbaar) te oorbrug.
Eenheid tussen Afrikaners in hulle strewe na selfbeskikking is miskien belangriker as ooit tevore. Die gevaar van verdeeldheid is nie kleiner as in die verlede nie – toe daar teen geweldige gevolge, nie net in Suider-Afrika nie maar in die hele wêreld, gewaarsku is.
Gegewe vandag se buitengewone spanninge in die Westerse wêreld maar ook met Rusland en China, kan dit tot 'n derde wêreldoorlog lei, soos Egon Bahr, die uitnemende grys “ringkop” van Duitse buitelandse beleid toentertyd, in 'n onderhoud in die Allgemeines Deutsches Sonntagsblatt gewaarsku het. Miskien was die voormalige Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, Gustav Adolf Sonnenhol, ook korrek in sy reaksie op die artikel deur Jürgen Blenck en myself in 1976 oor “opofferende” verdeling (partisie). Hy het naamlik gesê dat hoewel laasgenoemde (opofferende partisie) heel waarskynlik die mees geloofwaardige oplossing vir die Suid-Afrikaanse drama was, dit moontlik slegs 'n post-katastrofe-antwoord kon wees.
Die outeur dra hierdie artikel op aan wyle kommandant Peter Stark wat op 13 Desember 1975, om 11:45 plaaslike tyd, saam met 'n aantal ander swart en wit Suid-Afrikaners en Namibiërs, hom van dors en uitputting in die Namib-woestyn gevind en daarmee sy lewe gered het nadat hy vir 92 uur verlore was.
Dr. Klaus Baron von der Ropp is ‘n regsgeleerde, skrywer, politieke adviseur en voormalige uitvoerende beampte van die Duitse Instituut vir Internasionale en Veiligheidsaangeleenthede.