Gee die Boere wat hul vra!
In 1939 het KLAUS VON DER ROPP (foto) die gevolge van "etniese suiwering" aan eie lyf gevoel toe sv gesin hul geboortestad Libau, Letland, waar sy voorgeslagte 740 jaar gewoon het, moes verlaat ná 'n ooreenkoms tussen Hitler en Stalin. Hulle is hervestig in Koningsbergen in Oos-Pruise maar in 1945 tee 13 miljoen Duitsers uit Oos-Europa verdryf is, moes hulle te voet voor die Russe weswaarts vlug. Vandag glo hy dat daar net een manier is om Afrikane 'n soortgelyke lot te spaar.
NÁ die ineenstorting van die Portugese koloniale bewind in Angola en Mosambiek en die totstandkoming van kommunisties-gesinde regerings in Luanda en Maputo het die Weste begin vrees dat die Sowjet-Unie en sy surrogate daarin sou slaag om beheer te kry oor Salisbury/Harare, Windhoek en uiteindelik Pretoria. Westerse regerings het, met goeie rede, geglo dat die Afrikaner-bewindhebbers, met hul sinlose kragdadigheid en hul onvermoë om werklikhede te aanvaar, regstreeks in die hande speel van Moskou, Oos-Berlyn en Havana, wat die hele Suider-Afrika onder kommunistiese beheer wou kry.
Leiers in die Jimmy Carter-regering, Wes-Duitsland se minister van buitelandse sake, mnr. Hans-Dietrich Genscher, en 'n aantal ander Westerse leiers het selfs met die gedagte gespeel om die hardkoppige klomp Afrikaners te "hervestig" in die Amerikas, Australië, Nieu-Seeland en Europa. Dan sou die Weste hier 'n meerderheidsregering kon instel wat normale betrekkinge met hom kon aanknoop!
Ander Westerse leiers het sulke belaglike planne verwerp en eerder kompromis-oplossings gesoek.
Toe die Amerikaanse visepresident Walter Mondale in Bonn opmerk dat die Weste al die moontlike moet doen om Pretoria te dwing om apartheid af te takel, het kanselier Helmut Schmidt hom verras met dié lakoniese reaksie: "Om wat in die plek van apartheid te
stel?"
Egon Bahr, 'n sosiaal-demokraat en steeds die voorste Duitse kenner van buitelandse sake, het in Julie 1977 op Schmidt se vraag probeer antwoord met 'n beroep om 'n "model vir saambestaan met gelyke regte en spesiale beskerming vir minderhede". Dr. Frederik van Zyl Slabbert en sy mede-Dakargangers (onder wie die skrywer van hierdie artikel) het dié en ander sienings in Julie 1987 in Senegal met 'n ANC-groep, gelei deur Thabo Mbeki, bespreek. Baie jare later sou die onderhandelaars by Kempton Park tot die gevolgtrekking kom dat geen model volgens Egon Bahr se riglyne gevind kan word nie.
Teen hierdie agtergrond onthou ek die besprekings wat 'n paar van dr. Slabbert se vriende in die vroeë sewentigerjare in sy huis in Rondebosch gehad het oor die kwessie of 'n Afrikaner-volkstaat, in die sin van 'n toevlugsoord, dié toegewing sou moes wees wat nie-Afrikaners in die Republiek (en in die buite-wêreld) sou moes maak om te verseker dat blanke Afrikaners apartheid prysgee.
Ons het almal geweet van die verhaal dat 'n ANC-afvaardiging in die laat veertigerjare 'n regverdige verdeling van die land met die D.F. Malan-regering wou bespreek. Soos te wagte, is die versoek geweier. Die Afrikaners het as nasie gans te sterk gevoel om selfs so 'n moontlikheid te oorweeg.
Later het Suid-Afrikaners en Duitsers wat deelgeneem het aan die besprekings in Slabbert se huis in verskeie lande artikels gepubliseer oor die onderwerp van 'n Afrikaner-volkstaat as 'n sleutel tot die oplossing van die Suid-Afrikaanse konflik. Hierdie artikels is in Suid-Afrika feitlik geïgnoreer. Een van die regse Suid~Afrikaanse kritici het sulke gedagtes verwerp as "apokalipties in sy uitgangspunt, naïef en utopies in sy gevolgtrekking".
Nog verstom mender is die feit dat Otto Lambsdorff, voorsitter van die Duitse liberale party en president van Liberal International, in 1986 voorspraak gemaak het vir 'n Afri-
kaner-volkstaat en hierdie standpunt in April 1993 in Johannesburg herhaal het. Die reaksie was weer eens 'n amper totale gebrek aan belangstelling. By verskeie geleenthede het Lambsdorff gesê dat klinkklare versekering vir die voortbestaan van die Afrikaner die sleutel is tot die bevryding van die swart Suid-Afrikaners van die juk van apartheid.
En ook Chester A. Crocker, pres. Ronald Reagan se assistent-minister van buitelandse sake belas met Afrika, het in sy artikel South Africa: Strategy for Change in 1980/'81 genoem dat 'n onderhandelde gebiedskeiding 'n moontlike oplossing is vir Suid-Afrika se grootste politieke probleem. In sy talle gesprekke met Lambsdorff het Van Zyl Slabbert ook 'n "offer-skeiding" van die land beskryf as moontlik die enigste manier om 'n katastrofe te vermy.
Vreemd genoeg het slegs liberale Afrikaners, DP's of ander "afvalliges" daardie buitelandse debatte ernstig opgeneem.
Al hierdie dinge het deur my gedagtes geflits terwyl ek laat in Oktober 1993 by Kempton Park na 'n toespraak van pres. F.W. de Klerk geluister het. 'n Mens kon nie help nie om te twyfel of hy regtig die vrese van die meeste blanke Suid-Afrikaners, veral Afrikaners, kan be sweer. Hy het 'n baie eensame leier geword.
Wat maak dit so moeilik om sy siening van 'n nie-rassige demokratiese federale Republiek van Suid-Afrika te steun? Die Republiek het nie 'n demokratiese politieke kultuur nie. Massiewe werkloosheid en 'n politieke onverdraagsaamheid is die grondslag van Suid-Afrika se verskriklike misdaadsyfer. In hierdie omstandighede kan jy nie demokrasie deur onderhandeling optower nie.
Die veronderstelling dat enige nuwe regering in Pretoria met drakoniese veiligheidswette sal moet regeer om stabiliteit in 'n pos-apartheid Suid-Afrika te verseker, is dus nie so vergesog nie. Maar sal hy kan? Sal hy die nodige veiligheidsgereedskap hê? M.a.w. sal die nuwe SAW en SAP lojaal wees aan 'n ANC/SAKP-alliansie wat in Pretoria regeer? Sal hulle bereid wees om weerstand van die Afrikaner-Volksfront te onderdruk?
Is daar dan 'n uitweg uit die dilemma? Of sal Afrikane, Afrikaners en Indiërs al die leed deel wat ons in Oos-Pruise deurgegaan het toe ons vroeg in 1945 hervestig en gedwing is - soos die foto toon - om weswarts te vlug? Daar is steeds 'n moontlikheid om die skade te beperk. Maar net op voorwaarde dat die AVF, en indien moontlik, Inkatha, selfs nog na die verkiesing in April in die herskikkingsproses ingetrek kan word.
Teen hierdie agtergrond sal die ANC/SAKP-alliansie uiteindelik bereid moet wees - hoe vreemd dit ook al is aan sy eie politieke filosofie - om toe te gee aan die AVF (voeg hierby al die latente AVF-ondersteuners in die NP) se eis vir 'n nie-rassige(!) Afrikaner-volkstaat.
As so 'n Afrikanerstaat inderdaad tot stand kom, sal dit gele moet wees in die gekombineerde Noordelike en Westelike Kaapse gebiede. En as 'n volkstaat enigsins sin maak, móét daar en sál daar 'n uitruiling van bevolkings van Afrikaners en nie-Afrikaners wees tussen die twee opvolg-republieke van die huidige Republiek van Suid-Afrika. Want die alternatief vir so 'n kompromis is 'n Suid-Afrikaanse Bosnië-Herzegowina, 'n alternatief te erg om te oorweeg.