African Questions

Publications of Dr. Klaus Frhr. von der Ropp

Political Observer and Consultant on Southern African Issues

Afrikaner-Israel kan 'n tweede Lebanon verhoed

Klaus Baron von der Ropp

OP 'n dag, in Mei 1977, het kanselier Helmut Schmidt van Wes-Duitsland 'n besoeker onkant betrap met dié vraag: "En waarmee vervang jy dit?"
Die besoeker, die onderpresident van die VSA, Walter Mondale, het 'n paar dae vantevore 'n bittere woordewisseling met John Vorster gehad en het sy Wes-Duitse gasheer probeer oortuig dat die Weste alles in sy vermoë moet doen om die Suid-Afrikaanse regering van apartheid te laat afsien.
Baie buitelandse politici, diplomate, studente en joernaliste beskou Schmidt se vraag as uitgedien en onnodig. Hulle is tevrede om saam met die duisende aanhangers van die ANC/UDF of PAC/Azapo te sê: apartheid kan nie hervorm word nie en moet daarom afgeskaf word.
Die politieke en ekonomiese strukture in 'n post-.apartheid Suid-Afrika kry selde aandag in buitelandse politieke kringe. Maar indien die Weste en die Sowjet-Unie toelaat dat die konflik in Suid-Afrika onverhinderd voortduur, sal dit dié land ongetwyfeld in 'n Lebanon-situasie dompel.
Dit kan daartoe lei dat die land in twee onafhanklike state verdeel, met, in Van Zyl Slabbert se woorde, die grense dáár waar die laaste veldslag plaasgevind het en nie waar dit op die kaarte aangedui word nie.
Nou lyk dit egter of 'n onderhandelde skikking wel bereik kan word. Die breë demokratiese beweging - bestaande uit onder meer die ANC, UDF en Cosatu - is bereid om te praat, deur Nelson Mandela in Tuynhuis te onthaal het PW Botha erken dat die ANC - saam met die NP-regering - 'n sleutelrol te speel het in die toekomstige Suid-Afrika. Ook die vredesgesrpekke tussen die UDF/Cosatu en Inkhata is uiters belangrik en hou groot belofte in.
Kortom: wat tot onlangs nog ondenkbaar was, kan binnekort moontlik wees.
Dié veranderende klimaat kan toegeskryf word aan die nuwe Sowjetbeleid rakende Suider-Afrika. Die Sowjet-Unie het besef daar is nie 'n "wet" wat bepaal dat die gewapende stryd die ANC na heerskappy van Suid-Afrika moet lei nie.
Die Russe leef in 'n heterogene samelewing en is bewus van die etniese konflik in die Baltiese Republiek, Trans-Kaukasië, Sentraal-Asië en onlangs in die Oekraïne. Daarom verstaan hulle ook die verwikkeldheid van die Suid-Afrikaanse situasie beter as baie Westerse - en in die besonder Noord-Amerikaanse - "kenners" van Suid-Afrika.
Sir Geoffrey Howe het in 1988 in Londen vir Boris Asoyan, 'n Suid-Afrika-kenner, aangehaal en na die Suid-Afrikaanse werklikheid verwys as "multifaceted, dynamic, extremely complex and confused".
Dit beteken geensins dat die Sowjet-Unie die ANC of Umkhonto we Sizwe (MK) verraai nie, eerder dat hulle druk op dié organisasie sal plaas om mag te deel en van hul dogmatiese standpunte oor sosialisme af te sien. Sowjet-diplomate huldig vandag dié standpunt (soos deur Van Zyl Slabbert in Dakar uiteengesit): "As jy apartheid wil oorkom, moet jy die blankes, in besonder die Afrikaners, oortuig dat daar lewe ná apartheid is."
Die Russe se reaksie op Dakar verskil geensins van dié van Otto Graf Lambsdorff, die nuwe voorsitter van die Federale Duitse Republiek, nie. In 'n gesprek met Van Zyl Slabberts by Dakar het hy twee waarhede kwytgeraak: sonder swart bevryding sal daar nooit wil sekuriteit wees nie, en wit sekuriteit is die sleutel tot swart bevryding. Sowjet-amptenare kon maklik identiese uitsprake gemaak het.
Die nuwe houding open die weg vir die Russe om aan die moontlikheid van 'n Britse/Sowjet-inisiatief vir Suid-Afrika, met 'n sterk Amerikaanse steun daaragter, te dink. Londen en Moskou kan dan hul invloed gebruik om Pretoria in toom te hou, en dié twee regerings kan voortgaan met die geheime Britse/Sowjet/VSA-diplomasie wat in 1988/89 so 'n deurslaggewende rol in die beslegting van die Angola- en Namibia-dispute gespeel het.
Dit is moontlik dat die geskiedkundige ontmoeting tussen Mandela en Botha, die latere ontmoeting tussen die kerkleiers van die breë demokratiese beweging en staatspresident FW de Klerk asook die vrylating van die Rivonia-gevangenes die eerste vrugte van 'n gesamentlike Sowjet/Britse inisiatief vir Suid-Afrika is.
Omstandighede vandag lyk baie gunstig vir so 'n inisiatief.
Die buiteland het vertroue in Suid-Afrika se kapitaalmark verloor en dié land het nie meer genoeg geld om apartheid in stand te hou nie. Aan die ander kant het die terugslae van die opstande in 1984/85 aan die bevrydingsorganisasies getoon dat Suid-Afrika militêr nie sommer gou verslaan gaan word nie.
Sowjet/Britse diplomate sal veral voor twee groot probleme te staan kom: Hoe om te verhoed dat die blankes ter elf der ure 'n verskroeide aardebeleid begin volg in 'n poging om die onverdedigbare te verdedig, en hoe om die ANC/UDF, Inkhata, en PAC/Azapo te oortuig om mekaar as strydende politieke partye te aanvaar. Van die ANC, verreweg die sterkste politieke groepering in die land, sal verwag word om mag te deel.
Hoe diep die skeuring tussen die drie bevrydingsorganisasies ook al is, wil dit voorkom of hulle verskille nie soseer ideologies is nie, maar eerder oor mag gaan. Veral die verskille tussen Inkhata en die breë demokratiese beweging blyk oorbrugbaar te wees met 'n stelsel van gesamentlike beheer - dit wil sê 'n stelsel van permanente magsdeling.
Maar aan die ander kant is daar onoorbrugbare skeure tussen wit Suid-Afrika aande een kant en swart Suid-Afrika aande ander. Daar is baie min gemeenskappe in die wêreld met sulke diepgaande verskille soos Suid-Afrika.
Dit herinner my aan die verhouding tussen die Pole en die Duitsers in 1945. Ná twaalf jaar van Nasionaal-Sosialisme het hulle nog steeds niks gemeen gehad nie. Selfs die gedeelde Rooms-Katolieke geloof kon hulle nie saamsnoer nie. Is dit nie dalk ook die geval tussen wit en swart in Suid- Efrika nie?
Charles Villa-Vicencio van Kaapstad is reg as hy sê dat die klaarblyklik geïntegreerde Engelssprekende kerke sterk protes kan aanteken, maar nie so sterk weerstand kan bied nie. Die vrees vir die onbekende, naamlik 'n post-apartheid Suid-Afrika, is net so sterk aanwesig by die Engelssprekendes as by die Afrikaners.
Deur die eeue heen was daar geen werklike gesprek tussen wit en. swart Suid-Afrikaners nie. Daar is orals segregasie en die kanse dat dit oorkom kan word, is maar skraal. Daar is twee politieke kulture in Suid-Afrika wat nie versoenbaar is nie.
Sedert Augustus 1988 het die ANC hulle verbind tot 'n stelsel van beperkte politieke pluralisme. Maar dit is moeilik om te dink hoe die ANC die gedagte aan die "demokratiese massas" in die townships gaan oordra - volgens hulle gaan die nuwe Suid-Afrika 'n volksdemokrasie wees.
Wit Suid-Afrikaners sal moet leer hoe om in 'n past-apartheid Suid-Afrika te leef.
Maar hulle sal die onafwendbare makliker kan aanvaar indien hulle vrae beantwoord kan word.
Wat sal hulle doen as hulle weet dat daar nie plek vir hulle of hulle kinders in 'n nuwe, ANC-beheerde Suid-Afrika is nie?
Die Russe is ook bekend met die toevlugsoord-gedagte. Hulle besef dat 'n Afrikaner-Israel, waarvan die grense deur deur al die Suider-Afrikaanse en internasionale state erken word, die onafwendbare oorhandiging van mag aan die meerderheid moontlik kan maak.
Die skepping van so 'n toevlugsoord kan wit Afrikaners in die toekoms voorsien van dit wat hulle nie vandag het nie - sekuriteit vir die komende geslagte wit Suid-Afrikaners.

Klaus Baron von der Ropp is verbonde aan die Stiftung für Wissenschaft und Politik in Keulen

18